Sy laaste weg
Op 26 Januarie 1959 sterf Bruno Gröning in Parys
Diagnose: maagkanker in ’n gevorderde stadium
In die laatherfs van 1958 reis Bruno Gröning met sy tweede vrou Josette, met wie hy in Mei 1955 getroud is, na Parys en laat hom ondersoek deur 'n bevriende kankerspesialis dr Pierre Grobon. Na vele X-straal opnames was die uitslag maagkanker in 'n gevorderde stadium. Dr. Grobon wou dadelik opereer maar Bruno Gröning het dit van die hand gewys.
Hy reis terug na Duitsland en berei hom voor vir Kersfeesviering met die groepe. Op 4 Desember maak hy 'n bandopname wat by al die Kersfeesvieringe gespeel moes word. Daarna reis hy met sy vrou opnuut na Parys. Dr. Grobon het intussen die hoogaangeskrewe kankerchirurg dr. Bellanger ingelig. In sy kliniek, nie ver van Montmartre nie, is 'n operasie gedoen op 8 Desember. Die resultaat was vir die dokters skokkend: dit was nog veel erger as wat die X-strale hulle laat vermoed het - nie meer opereerbaar nie. Die wond is net so weer toegewerk.
Verbasend vinnige herstel
Josette Gröning het daaroor geskryf: "Hulle kon nie verstaan dat Bruno Gröning se uiterlike voorkoms so min van sy vreeslike innerlike lyding kon verberg nie, dat hy nog normaal kon asemhaal, dat uitskeiding nog in die laaste weke sonder probleme kon funksioneer, dat sy bloedtoestand uitstekend was. In hierdie gevorderde stadium is daar gewoonlik gereelde braking by die geringste voedselinname, en die swaar beproefde pasiënt moet stadigaan verhonger. By Bruno was dit nie die geval nie."
Tot die verbasing van sy dokters herstel hy vinnig en reis terug na Duitsland waar hy Kersfees deurbring. Middel Januarie 1959 vergader hy drie dae lank met die leiers van die nuwe vereniging en bepaal hoe die werk voortgesit moes word. Hulle het nie vermoed dat dit die laaste samekoms met Bruno Gröning sou wees nie.
Operasie in Parys tesame met onweer in die natuur
Op 21 Januarie vlieg hy weer terug na Parys. Weens verstopping van die dikderm was 'n operasie onvermydelik. Op 22 Januarie om 9:00 in die oggend - op dieselfde oomblik toe in München die hersieningsaak begin het - word Bruno Gröning opnuut geopereer. Hy moes dit ondergaan wat hy talle ander mense gespaar het, hy kon en durf homself nie help nie.
Terwyl hy daardie oggend onder narkose was, het daar skielik 'n swaar donderstorm oor Parys losgebars. Gröning se vrou berig daaroor: "Die volgende natuurverskynsel was ook merkwaardig: Op 22 Januarie 1959 terwyl my man onder narkose was, het 'n skielike storm met blits en donderweer die helder dag verdonker. Dit het so donker geword dat 'n mens helder oordag die ligte moes aanskakel. Die verpleegsters het hulle verbasing uitgespreek oor die swaar weer. In die dae wat sou volg op die operasie was Bruno se temperatuur, sy bloeddruk en polsslag heeltemal normaal. Hy het selfs tweemaal opgestaan en in 'n stoel gesit."
"Totaal verbrand van binne"
Op die 25ste verval hy in 'n koma en op die volgende dag, 26 Januarie 1959 sterf Bruno Gröning in die Henner kliniek aan kanker, soos deur die dokter op die doodsertifikaat aangedui. Was dit werklik kanker? Na die tweede operasie het dr. Bellanger gesê: "Die vernietiging in Bruno Gröning se liggaam is vreeslik, daar is totale inwendige verbranding. Hoe hy so lank en sonder om van die vreeslike pyn te beswyk, nog aan die lewe kon bly, is vir my 'n raaisel."
Bruno Gröning het reeds 'n jaar van te vore gesê: "As die werking my verbied word, sal ek van binne verbrand."
Doodsberig
Hoe Bruno Gröning hierdie bittere stryd gedra het, getuig 'n brief wat Dr. Grobon op 26 Februarie 1959 aan sy weduwee skryf: "Hierdie [behandeling van Bruno Gröning deur die dokters] was net natuurlik, en ek kan sê, dit het sterk ondersteuning gekry deur die moed en wilskrag van die besondere persoon Bruno Gröning.[...] "
In Desember 1974 het dr. Bellanger sy bewondering vir Bruno Gröning nogmaals in 'n brief uitgedruk: "Bruno Gröning was 'n man met 'n hart, 'n waardevolle mens, wat homself kon laat geld en sy waardigheid in die aangesig van lyding en die dood dwing vandag nog bewondering af."
Na verassing van die oorskot kom ’n finale regsuitspraak
Die liggaam van Bruno Gröning is in 'n krematorium in Parys veras en die as in 'n kruik ter ruste gelê in die boskerkhof van Dillenburg.
Weens oorlye van die aangeklaagde, is die hofsaak ter syde gestel en 'n finale oordeel is nooit gelewer nie.
Elkeen kan vanuit homself hulp en genesing ontvang
Die "Wonderdokter van Herford" wat duisende mense genees het, sterf eensaam en verlate in 'n agterstraatjie van Parys. Hoekom moes dit gebeur? Hoekom moes hy so 'n bittere lyding dra? Hoekom kon hy homself nie help nie?
In haar boek Ondervinding van genesing, dit is die waarheid skryf Grete Häusler (1922-2007), jarelange medewerker en geneesde van Bruno Gröning en stigter van die Bruno Gröning Vriendekring: "Bruno Gröning het in sy kort lewe op aarde baie wat goed is bewerkstellig. Die gawe van hulp en genesing is hom reeds van geboorte af geskenk. Orals waar hy gekom het, het wonderlike dinge gebeur wat nie met die menslike verstand te verklaar is nie. In 1949 het hy in die openbare oog gekom. Drie maande na die groot genesings in Herford en nadat hy in Duitsland sowel as buitelands op almal se lippe was, is hy verbied om genesing te doen. Hy is vervolg, belaster en aangekla en die mense wou hom straf en veroordeel. Waarom? Aan wie het hy kwaad gedoen? Aan niemand nie, maar aan duisende het hy meer goed gedoen as wat enigiemand anders ooit kon doen. As onskuldige wou die mense hom straf en hom keer om dit te doen waartoe God hom geroep het - om die mense te help! In bitterheid moes hy hierdie kwaadwilligheid verdra in die kankerkliniek in die rue Henner in Parys! Onder bittere pyn het hy van binne af deur die heilstroom verbrand wat hy nie meer mog uitstuur nie. Die menslike wet wou hom dit verbied in Duitsland. Onder alle leuens en laster het hy as aangeklaagde daar gestaan soos 'n misdadiger! Stil en alleen, geen vriend het daarvan geweet nie, het hy die leed van die mensheid gedra. Dit was nie tevergeefs nie. Dit moes so gebeur, anders was dit nie moontlik dat hy die mensheid kon help nie."
In haar boek Ek lewe, sodat die mensheid kan verder leef skryf sy: "Ons moet versigtig wees om die woord 'slagoffer' te gebruik. Maar hier in Parys wanneer Bruno Gröning sterf, is hierdie woord in al sy ernstigheid, die waarheid."
Slegs só was dit moontlik dat sy woord in vervulling kon gaan, soos vandag gestaaf word deur ontelbare suksesberigte: "Wanneer ek nie meer as mens op hierdie aarde is nie, d.w.s. wanneer ek my menslike liggaam verlaat het, dan sal die mensdom sover wees dat elkeen die hulp en genesing kan ervaar."