Die Traberhof – massatoestroming in Rosenheim
Tot 30 000 hulpsoekende mense het daagliks voor Gröning opgedaag in September 1949
Na afloop van die Heidelbergse ondersoeke gaan Bruno Gröning in Augustus 1949 na Suid-Duitsland. Hy wou ontkom aan die opskudding wat rondom sy persoon geskep is en het homself teruggetrek na 'n privaat landgoed by Rosenheim, naby München. Aanvanklik kon hy sy teenwoordigheid geheim hou. Nadat die eerste koerante egter oor sy aankoms berig het, het 'n massa toestroming gevolg.
Tot 30 000 mense het daagliks op die Traberhof by Rosenheim toegesak. Die pers, radio en nuusfilms het daaroor berig. Selfs 'n film is gemaak met die titel "Gröning" wat die gebeurtenisse rondom hom gedokumenteer het.
Bybelse tonele
In 'n spesiale uitgawe in die tweede week van September berig die koerant Zeitungsblitz: "Intussen het meer as tienduisend mense versamel wat in bloedige hitte op die groot oomblik wag dat Gröning op die balkon sou verskyn, met die menigte praat en sy genesende krag uitstraal. Dig opmekaar staan die mense saamgepak om die volle werking van sy 'genesende strale' op te vang. Gou begin die reaksies by die ernstigste siekes in hulle rystoele en drastoele te werk of by die alleenstaandes op die rand van die skare. Weer begin halfblindes te sien, weer staan mense op wat voorheen nie kon loop nie, weer beweeg die verlamdes hulle stywe ledemate. Honderdes berig van verergerde pyne in die aangetaste dele, van trekkings, steke en krieweling, van 'n onbeskryflike 'gevoel van ligtheid' of van hoofpyne wat skielik verdwyn."
Nie net by Traberhof het Bybelse tonele hulle afgespeel nie. Waar Gröning ookal verskyn het was hy omring van ontelbare siekes. Anita Höhne beskryf die toestand rondom Gröning in haar boek Geistheiler heute (Geloofsgenesers vandag): "As Gröning net maar sy koms aankondig, begin daar reeds pelgrimstogte. Tipiese tonele wat deur die joernalis Rudolf Spitz opgeteken is by so'n besoek van Gröning in September 1949 aan München:
'Om 19:00 staan duisende in die Sonnenstrasse. Om 22:30 staan hulle nog daar. Ek het in vyf jaar van oorlog baie meegemaak, nooit was ek egter meer getref nie as in die vier ure waarin ek regoor Bruno Gröning gesit het en 'n ontsettende parade van ellende en lyding ervaar het. Epileptici, blindes, en verlamdes op krukke het om hom saamgedrom. Moeders het hulle verlamdekinders opgehou. Daar was floutes, 'n geroep het opgeklink, daar was desperate hulpgeroep, smekings, wense, diepe sugte.'"
Staatsinstansies betuig welbehae
Anita Höhne haal die joernalis Rudof Spitz verder aan: "'Siekes op draagbare, verlamdes en 'n groot mensemassa is waargeneem deur 'n ander joernalis van München, dr. Kurt Trampler, ook by die Traberhof by Rosenheim waar Bruno Gröning destyds gewoon het. Trampler het as verslaggewer van die weekblad Münchner Allgemeine gekom - 'n nugtere joernalis wat slegs weergegee het wat hy self gesien en gehoor het: 'Van die balkon hoor ons 'n stem wat nie Gröning s'n is nie, en haas ons na die venster. Die polisiehoof van München, Pitzer, is besig om die versameldes toe te spreek. Hy verklaar dat hy reeds jare aan heupjig gely het, wat nou in die teenwoordigheid van Gröning beter geword het. Pitzer is beslis nie iemand wat homself aan hipersensitiewe verbeelding sal oorgee nie, maar wat hy self ondervind het, daarvan kan hy getuig. Nou gee hy openlike erkenning aan Gröning en die CSU-afgevaardigde Hagen volg met 'n soortgelyke verklaring.'"
Ook die Beierse owerhede was Bruno Gröning goedgesind. Die dagblad Münchner Merkur berig op 7 September 1949 onder die opskrif "Welwillendheid teenoor Gröning": "Die ministerpresident Dr. Ehard het op Maandag by 'n perskonferensie verklaar dat 'n mens die werking van so'n 'uitsonderlike verskynsel' soos Bruno Gröning nie as gevolg van 'n paar paragrawe op papier moet laat skipbreuk ly nie. Volgens sy mening isdaar geen groot probleme om Gröning toe te laat om in Beiere te werk nie.
Die ministerie van binnelandse sake in Beiere het by ons terperse gaan bekend gemaak dat aanvanklike ondersoek van die aktiwiteite van Bruno Gröning getoon het dat dit as 'n vrye liefdestaak beskou kan word en dus nie toestemming vereis onder die wet op alternatiewe geneespraktyk nie."
Na naamskending tot by mediese dokumentasie van die genesings
By die Traberhof het 'n groot geskarrel om Gröning ontstaan. Daar was besigheidsmense wat uit sy vermoëns wou geldmaak. Hulle het sy naam en aansien skade aangedoen en 'n distansiëring van die owerhede veroorsaak. Toe die toestande onhoudbaar word, trek Gröning homself terug na die berge van Beiere. Hy wou 'n paar aanbiedings oor die oprigting van genesingsentra oorweeg. Dit was sy doelstelling om inrigtings daar te stel waar hulpsoekers op geordende wyse genesing kon ontvang. Dokters sou voor- en na-ondersoeke doen volgens die Heidelbergse voorbeeld en die genesings dokumenteer.