Eerstehandse getuie L. Schlüter
Genesing van doofheid, blindheid, verlamming in Herford – Gröning se uitstraling sê meer as ’n duisend woorde
Herford in Wesfale was die plek waar die werk van Bruno Gröning in alle erns begin het. Ook die pers het daarvan notisie geneem en 'n verslag uitgebring. Hulpsoekers het in hulle duisende van heinde en verre hier opgedaag om genesing te ontvang. Tussen die baie mense was daar mev Schlüter met haar blinde skoonmoeder wat liggaamlik baie verswak was en voortdurend hulp nodig gehad het soos met aantrek, daaglikse versorging ens.
Mev. Schlüter vertel die volgende: "Ek het deur 'n tydskrif verneem van die baie genesings. Onder andere was daar ook foto's van die gebeure in Herford. Ek het vir myself gesê dat ek daarnatoe moes gaan met my skoonmoeder!
Dig opmekaar soos sardientjies in 'n blik het ons daar gestaan tussen die menigtes voor die huis op Wilhelmsplatz nr. 7. Regs van ons was omtrent 30 mense in rolstoele. Ons het almal gewag en gewag. Niemand het gepraat nie. Almal was vol spanning en het opgekyk na die balkon waar Bruno Gröning sou verskyn. Dit was al heel laat in die aand. Toe kom iemand op die balkon uit om ons te vertroos. Hy sê dat Bruno Gröning nog by ander hulpsoekers was. 'Wees geduldig! Bruno Gröning kom beslis!' So het ons drie dae en nagte uitgehou.
En toe was Bruno Gröning skielik daar. Almal was verheug. Bruno Gröning sê dat ons almal hulp en genesing soek en dat God die grootste dokter van alle mense is. Toe moedig hy die verlamdes in die rolstoele aan om op te staan. "Julle kan loop, staan op!" Niemand wou dit doen nie. Op nuut moedig hy die verlamdes aan om vertroue in God te hê en op te staan. "Glo tog dat julle kan, staan op!" Toe staan een na die ander op uit hulle rolstoele. Hulle kon loop! Niemand kon dit begryp nie. Almal was sprakeloos. Die mense het gehuil by hierdie gesig.
Toe sê Bruno Gröning: "Ek vra die blindes en doofstommes om na die ingang van die huis te kom." Toe gaan ek soontoe met my skoonmoeder, waar hy ondermeer ook met haar gepraat het. Daar by die ingang van die huis neem Bruno Gröning ook 'n ongeveer twee jaar oue doofstom kindjie van sy moeder se arm. Mnr Gröning streel die kind en praat met hom. Later hou hy 'n stemvurk by die kind se oor. Daarop draai die kind sy kop. Dit was nou duidelik dat die kind kon hoor. 'nAnder kind word siende. Dit was die aangryplikste tonele wat ek ooit in my lewe gesien het.
Later gaan ons toe weer huistoe. My skoonmoeder het soveel sig herwin dat sy vry en alleen in die huis kon rondbeweeg. Haar algemene toestand het ook soveel beter geword dat sy geen hulp meer nodig gehad om aan te trek nie en die daaglikse versorging ook nie meer nodig gehad het nie.
Bruno Gröning was beskeie en eenvoudig aangetrek soos enigiemand anders. Tog het hy liefde uitgestraal soos geen ander nie. 'n Mens kon hom onmiddellik vertrou. Sy uitstraling het eenvoudig meer gesê as 'n duisend woorde."